Wat is motivering?
Wat is motivering?

Wat is motivering?

Dit het my n redelike tyd gevat om te dink waaroor om te skryf. Ons almal het die wereld impak van Covid-19 verskillend ervaar.
My ervaring is dalk nie so drasties soos ander nie maar dit het ons geskud met ons kinders. “Lockdown Level 5” het in Maart 2020 begin op ons dogtertjie Amy se 6de verjaardag. Die ergste was om vir haar in haar mooi gesiggie te kyk en se jammer, maar ons mag nie meer jou partytjie hou nie, jy mag nie jou maatjies sien nie en ook nie jou oumas en oupas nie. Daai treinspoor trane oor haar wangetjies sal ek nooit vergeet nie, maar om die hoek self n snik of twee gegee. Wat doen jy vir n 6 jaar oud verjaardag in n woonstel, op die eerste verdieping as jy nie eers mag buite gaan nie?


My vrou Zanie mag nie gewerk het nie, want sy was nie n “essential worker” nie. Dit sit jou maande terug aan alles wat jy moet betaal. Haar kunsbeen het ook in dieselfde tyd begin probleme gee en sy was meestal op krukke. Ek moet se syt nou baie mooi gevormde skouers… Maar die proses tot daar was seer.


Ek is n “essential worker” op OR Tambo International Airport in die beskermings veld. Dit was moeilik. Skielik was daar so baie reels op n lughawe waar daar omtrent geen voete was nie. Ons het wel die repatriasie vlugte gedoen vir Suid Afrikaaners wat wou huistoe kom en buitelanders wat vasgekeer was in hier in Suid Afrika. Jy moes vreesloos werk terwyl jy vol vrees was, want niemand het die virus geken of verstaan nie.


Gemasker, handskoene, gesaniteer en geen glimlag van enige persoon waarmee jy werk of saam werk nie. Net twee sielvensters wat staar. Kinders wat huil en jy mag nie troos nie, ou mense wat sukkel maar jy mag nie aan hulle raak nie.

Na elke vlug as ek by die huis kom moes ek al my klere uittrek, my self saniteer, klere in n plastiek sak sit voor ek kon ingaan. Dit was erg om vir jou twee klein kinders te se bly weg van my af; moenie aan my vat nie… Veral as hulle bly was om jou te sien en na die hek gestorm het. Vele dae moes ons troos. Na maande het hulle dit gewoond geraak.

So het ons deur die fases gegaan. Alles beter verstaan… Maar nog beperk dat alles wat jy doen moet hersien word.. Waar het jy gevat?… Met wie het jy gepraat?… In dit alles het ek geleer dat sosiale media n lewesredder ook Kan wees; maar jou familie, jou kinders bly jou “happy place”.

So kry ons as gesin ons eerste beurt om geisoleer te word. Daar was kontak by my werk met n positiewe geval. Dit was rof. Darem het ons “party Stoep” vriende en familie mooi na ons gekyk. Die tweede keer het my skoonouers en Zanie se sussie positief getoets na gevalle by hulle verskeie werke. Dit was heel goed handteer en die kinders het hulle self so vinnig in die situasie ingepas.

Die derde keer was die gevalle in ons woonstel, oorkant die pad… Ons was basies omsingel. Selfs my ouers was positief getoets. Vir ons 3 jarige was dit die ergste syt so voor haar ouma se hek gestaan en huil dat die woonstel gemeenskap almal saam hartseer was. Bo dit alles was dit nog die ouma se verjaardag ook. Dit was selfs moeilik vir ons om terug te keer werk toe na 12 dae in isolasie.

Maar deur dit alles moet mens besef as jy nie jouself kan motiveer nie, Sal niemand anders dit reg kry nie. Jy is jou motivering.

– Cefas
03.03.2021

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *