Afrikaans : Verdraagsaamheid
English : Resilience

Ek weenie hoe nie,
maar ek kan.
Vir ander, lyk dit na maklik
maar tog is dit nie.
Soms, haat ek My.
Ander kere, net té trots.
Menige ander,
voel dit asof ek skaars kan by hou.
Tog, doen ek.
En ek doen dit goed.
My hart is swaar,
en my stem weg.
Agter groen glas
vind ek maar my weg.
Tog, lyk dit goed,
en al té mooi.
Tog, onverwetend, of wel –
kompleks
met wegdraai-voetspore soontoe,
bewonder daai kyk die waarheid van (doer) vêr.
Tog, kom die son weer op – gewoonlik –
en ons doen dit weer, en ons doen dit goed.
–
Tog, ‘werk ek te hard’,
of ‘eet ek te min’.
Tog is daar die ‘geluk van vele engele’,
met ‘n skoot te groot om self te erken.
Maar,
ek weenie hoe nie.
Ek bly sê – Jy ken My nie,
tog glo jy als anders van beter.
Ek weenie hoe nie,
maar die Lewe het so ‘n manier…
Terwyl ek so kyk na ‘n ander en waag om te dink dis maklik,
dink ek tweekeer en verstaan elders.
Want natuurlik, ‘n Donkie het net een stamp teen die kop nodig.
–
My gedagtes is ‘n vagevuur,
‘n wrak om elke draai.
Soms, voel dit asof ek myself verskeur,
en eers opvang na ‘n (goeie) koppie koffie.
Die lig in blitse-stilte rondgeswaai,
‘n staccato-blurred-mesh
tog ‘n komplekse kunswerk,
indien jy omgee om te kyk.
–
Tog, is dié vir myself te vinde, of vêr-vêr te verlore?
Met bolla-ma-kiesies,
woes-gedonner,
waar bevind mens stabiele grond in jou eie realiteit?
Ek weenie hoe nie
maar ek’s steeds hier.
Hulle sê ‘Aanhouer wen’
maar tog, voel dit nie so nie.
Soms wens ek,
ek kon minder omgee.
Ander kere, is ek trots op als sover.
Menige ander, plod ek net voort met goeie gewete.
Tog, is daar net soveel,
nog daar en dan hier.
En weer – ‘n – keer.
Nog.
‘n Dromer hou aan droom,
maar tog, moet geld gemaak word vir mÔre.
–
Ek weenie hoe nie,
maar ek hou by.
Alhoewel met een oog toe en half opspoed,
ek is oppad.
Half te danke aan My Mense,
Mense vir wie ek weet my Liefde soms te veel is.
Tog, stap mens jou padjie alleen,
en (ander) mense sien wat hul (self) toelaat.
–
Tog, is dit net weer ek hier,
en deesdae met meer styl.
Meer gereeld uitgeput
en ander kere met trane diep in gesluk.
Niemand weet.
Net ek.
–
Maar,
Wie is ek, as dit Ek is
hier onder die swaaiende kollig?
–
Author – Ruejean Kotze
17/02/2021 – Wednesday
Jy is n ongelooflik talentvolle digter wat soveel betekenisvolle gedagtes deel. Sal graag meer van jou werk wil lees en ook gebruik in my drama lesse.
Pingback: Die Kruispad van Keuses – interPRiority